Ek hou van winter. "Jy's mal", se my ma, "dis dan koud". Juis, ek hou van koud. En noudat die eerste ysige windjie om die hoekies begin waai, besef ek opnuut weer hoekom.
Dis sesuur en die wekker lui. Manlief, wat nie normaalweg sukkel om op te staan nie, kreun en krul styf teen my op. Hy hou my vas soos hy dit net in die winter doen, so asof hy my warmte vir homself wil vat. Later, as die ryklub-mamma om die hoek weg is met my styf ingepakte mensie, sit ek op die rusbank onder 'n kombers met my koppie oggendkoffie en 'n blink-nuwe tydskrif. Net gou 'n paar bladsye lees, dan gaan ek die wasmasjien aansit. Maar opkom uit my warm kokon is moeilik, en ek lees aan.
In die badkamer - met sy vensters toe teen die winterkoue, bly die warm stoom in die lug hang, en die water in die stort masseer my skouers en my nek, en loop in warm straaltjies oor my bors. Uitklim is swaar, want ek weet dat die koue lug wag om my warm lyf te vang. Aantrek is 'n hele ritueel, met langmoufrokkies en kouse, jasse en serpe.
Ek hou van winter. Ek hou van dik tuisgekookte sop en warm brood, geurige bredie en gebakte poeding, pannekoek met kaneel en bekers stomende warm sjokolade. Ek hou van saans saam onder 'n kombers le voor 'n goeie tv-film, ek hou van warm druk en vry met my kind wat met yskoue ore en neus van die kleuterskool af terugkom. Ek hou van nat wasgoed buite ophang terwyl die koue wind waai. Ek hou van terugkom in die huis waar die kaggel warm brand en dan te se "sjoe, maar dis ysig, ne!"
Mense doen minder - hulle hiberneer en rus van die ywerigheid van die somer. Mense het tyd en lus vir kuier. 'n Mens wil lees en gesels en eet, jy wil jou koue tone by jou geliefde indruk en hulle warmgevryf he. Jy wil in die kol van die oggendson sit en bak, en lui word van sy flouerige strale.
Saans, as die koue sy lang, dun vingers oral probeer indruk, as dit tyd is vir slaap, krul my man weer lekker styf teen my aan onder die duvet en my voete word geleidelik warmer. Dan se ek dankie aan God wat ook die winter gemaak het, sodat ons weer die klein dingetjies sal raaksien en waardeer. Sodat ons tempo sal afneem en ons kan rus, sodat ons siele weer kan warm word.
Ek hou van winter.
i wrote this essay for a book of essays published by the SAVF (Suid Afrikaanse Vroue Federasie) in 1993. the book was called 'Uit die dagboek van 'n ma".
all the illustrations in the book, including the 2 shown here, were done by verona higgs, who is also my aunt.
and it is not 100% true. i don't really love winter. especially not when it is a cold winter, like the one we are having now. and since electricity has become very expensive, and money a little tight, and we do not have heaters on all the time... i wrote that to convince myself. it is called positive thinking.
jacki janse van rensburg - SCRAPPIN TIMES scrapbook shop, benoni, gauteng, south africa